Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 05 FEBRUARIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat bekend gemaak moet word dat die sleutel van Henry Schoeman, ZS6AHS, na 'n leeftyd van 78 jaar stil geraak het. Henry het jare gelede 'n vraag/antwoord studiegids vir die RAE opgestel en heelwat radioamateurs opgelei. Hy was 'n lewenslange erelid van die Centurion Radioamateurklub en hy en sy LV, Rhoda, het die laaste aantal jare in die omgewing van die Paarl by 'n seun van hulle gewoon. Henry was 'n steunpilaar vir amateurradio en die SARL.

Ons innige medelye aan Rhoda, hulle ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SUMBANDILASAT AMATEURRADIOWERKING MAG DALK VOLGENDE WEEK HERVAT

LIDMAATSKAP VAN DIE SARL NA AAN 1 600

SARL HET ‘N NUWE FAKSNOMMER

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SUMBANDILASAT AMATEURRADIOWERKING MAG DALK VOLGENDE WEEK HERVAT

Vindingrykheid en innovasie deur Sumbandilasat se grondbeheerspan het die gevolg gehad dat daar ‘n groot moontlikheid is dat dat die amateurradiokommunikasie volgende maand mag hervat wanneer die satelliet in sonlig is.

Die grondstasies by SANSA se ruimtebedrywighede by Hartbeeshoek en die Elektroniese stelsellaboratorium by die Universiteit van Stellenbosch ontvang telemetrie wanneer die satelliet se sonpanele deur die son belig word.

Johann Lochner, ZS1CBC, het gesê dat die primêre beheerder op die kragverspreidingseenheid (wat die aanboordrekenaar van krag voorsien, vir een of ander onverklaarbare rede (maar wat moontlik aan ‘n groot uitstraling op 7 Junie gekoppel kan wees) opgehou het om te reageer op bevele van die grondstasie.

Dit het later geblyk dat die battery onklaar geraak het en dat niks van die satelliet vir ‘n tydperk gehoor is nie. Die gedeelte van die programmatuur van die grondstasie wat die verbyvlugte oor Suid-Afrika beheer en met die herwinningsprosedure begin, is geoutomatiseer. Na ‘n maand is weer kontak gemaak. Dit was in mid-November. “Ons het ‘n beplande herwinningsprosedure in werking gestel en binne 3-4 dae tot die slotsom gekom dat die battery gefaal het,” het Johann gesê. Met Sumbandilasat wat in volle sonlig reageer is Johann Lochner seker dat party funksies sal herstel tot die punt waar gedeeltelik beeldmateriaal gebruik kan word en die amateurradiotransponeerder weer in bedryf sal wees. Meer oor die herwinningspogings kan aanlyn van www.amsatsa.org.za verkry word.

LIDMAATSKAP VAN DIE SARL NA AAN 1 600

Die SARL-lidmaatskap het vandag 1 563 bereik en ons verwelkom alle nuwe lede. Indien u nog nie die regte stap geneem het en by die SARL aangesluit het nie, doen dit nou. Skakel Mariska Maandag op 011 675 2393.

SARL HET ‘N NUWE FAKSNOMMER

Die SARL het ‘n nuwe faksnommer. Dit is 086 299 0566. Die ou nommer sal nog vir ‘n sekere tyd in werking wees. Die nuwe nommer is ‘'n faks na e-pos diens. Net weer, die nommer 086 299 0566.

AMATEURSEGMENT VAN 500 kHz NOG ONDER BESPREKING BY WRC-12

Rod Stafford, W3ROD, sekretaris vir die Internasionale Amateurradiounie sê dat sy siening is dat daar ‘n hele paar lidlande is wat ten gunste is van die toekenning aan die amateurradiodiens êrens in die segment vanaf 415 tot 526,5 kHz. Dit is voorgestel dat ‘n 15 kHz gedeelte vir amateurgebruik toegeken word.

Stafford sê diegene wat aan die besprekings deelneem, voorsien dat daar ‘n nodigheid is om die huidige dienste te beskerm. Stafford sê in ‘n verslag oor die WRC-werksaamhede dat daar ‘n aantal opsies is:

Eerstens, ‘n sekondêre toekenning van tot 15 kHz, tussen 472 kHz en 487 kHz wêreldwyd aan die amateurradiodiens.

Tweedens, twee afsonderlike, wêreldwye, sekondêre toekennings aan die amateurradiodiens tussen 461 en 469 kHz en 471 en 478 kHz, met ‘n totaal van 15 kHz.

Derdens, ‘n voorstel vir ‘n wêreldwye sekondêre toekenning van 8 kHz van 472 tot 480 kHz.

Hy sê dat sekere lande bekommerd is dat alomgerigte bakens wat in die spektrum werk a.g.v. nuwe toekennings aan amateurradio moontlik steurings kan ondervind. Stafford se siening is dat dit nog te vroeg in die proses is om te bepaal of amateurs daarin sal slaag om die toekenning te verkry.

By WRC-12 is daar nog ‘n item wat kommer by die radioamateurs wek. Dit is ‘n bod vir oseanografiese radartoepassings in die 3 tot 50 kHz gebied. Stafford sê dat die IARU se houding is dat oseanografiese radartoepassings nie met amateur- en amateursatellietdienste in daardie bestek versoenbaar is nie.

WRC-12 duur tot 17 Februarie.

SARL-NASIONALE KONVENSIE

Die 2012 SARL-nasionale konvensie sal in Pinetown vanaf 20 tot 22 April by die Premier Hotel plaasvind. Die geleentheid begin met ‘n vingerete by die Highway-klubhuis op Vrydagaand en ‘n aanbieding oor die ontstaan van die Suid-Afrikaanse elektroniese industrie in Pinetown en die plaaslike ontwikkeling van ESB.

Die AJV sal op Saterdagoggend in die Premier Hotel gehou word gevolg deur ‘n ligte middagete en twee aanbiedings oor BHF-antennas en “Logbook of the World”. Die toekenningsdinee sal ook by die Premier Hotel gehou word.

Die SARL se nasionale konvensie sal afsluit met ‘n ontbyt in die Japanese tuine.

Die volle program en besprekingsbesonderhede is beskikbaar op www.srl.org.za vanaf vroeg volgende week.

SLUIT VANAAND BY INTEGNET AAN

Die eerste INTEGNET van 2012 sal vanaand, Sondag 5 Februarie, om 19:30 gehou word. Geskiedenis sal gemaak word wanneer dit die eerste INTEGNET sal wees waar lede van die Namibiese Amateurradioliga sal aansluit. Die NARL se herhaler in Windhoek sal gekoppel word om Namibiese amateurs die geleentheid te bied om aan die besprekings deel te neem.

Die onderwerp sal wees Groter DX-werking met voortplantingsvoorspelling. Twee sprekers sal praat oor die wetenskap van voorspelling en die praktiese toepassing daarvan. Dr Donald Danskin van die Geomagnetiese Laboratorium in Ottawa, Kanada sal die bespreking inlui met ‘n oorsig van hoe HF-voorspellings gemaak word. Hy is tans ‘n besoekende wetenskaplike by SANSA Ruimtewetenskappe in Hermanus. Hannes Coetzee, ZS6BZP, sal praat oor die praktiese aspekte van die die gebruik van voortplantingsvoorspellings en hoe om dit ten beste te gebruik. Die bespreking sal ook op Echolink beskikbaar wees.

KLUBNUUS

Die Overberg Amateurradioklub sal 'n veldstasie gedurende die Veld-Naweekkompetisie in die omgewing van Malgas op die Breederivier, bedryf. Kontak asb. vir Andre, ZS1AZ, by 072 729 1680 vir nadere besonderhede en aanwysings.

Die ZS6KTS-herhaler is nou aktief op 145,162 5/145,762 5 MHz vir 'n toetstydperk. Almal word uitgenooi om enige kommentaar of rapporte in te stuur na vubandplanning@sarl.org.za en ook aan vivdold@bestwebs.co.za.

KOMPETISIENUUS

SARL SE NASIONALE VELDDAG

Die oogmerk van die SARL Nasionale Velddag is om so veel as moontlik stasies te werk en sodoende te leer om in abnormale en minder optimale toestande te werk. ‘n Premie is geplaas op die ontwikkeling van vaardigheid rakende die uitdagings van gereedheid in noodtoestande en om die publiek in te lig oor die vermoëns van amateurradio. Die eerste been van die velddag sal op die tweede vol naweek van Februarie vanaf 10:00 UTC Saterdag 11 Februarie tot 10:00 UTC Sondag 12 Februarie 2012, plaas.

Aktiwiteit is op 160, 80,40,20, 15 en 10 meters met die gebruik van foon, GG en digitale modusse. Daar is vyf kategorieë van deelname, naamlik:
Klas A – Veldstasie – multioperateur;
Klas B – Veldstasie – multioperateur – QRP;
Klas C – Veldstasie – enkeloperateur;
Klas D – Veldstasie enkeloperateur – QRP;
Klas E – Algemene stasies.

Uitruiling is die aantal senders, Velddag werkingsklas en Provinsie bv. 3AFS = 3 senders, Klas A in die Vrystaat.

Logs moet per e-pos gestuur word aan zs4bfn@netactive.co.za of per slakkepos na SARL-Nasionale Velddag, Posbus 12104, Brandhof, 9324. Die sluitingsdatum vir indiening van logs is 19 Februarie 2012. ‘n Vol stel reels kan gevind word op bladsy 24 van die SARL se kompetisiehandboek.

SKRIKKELJAAR UITDAGING

U word uitgenooi om deel te neem aan die Skrikkeljaaruitdaging op Woensdag 29 Februarie 2012 om soveel kontakte as moontlik op hierdie dag te maak. Die uitdaging begin om 00:01 en eindig om 23:59 SAT met foon-, GG- en digitale aktiwiteit op alle bande - HF, BHF, UHF en mikrogolwe. Werk 'n stasie slegs een keer, ongeag van die band, modus of roepsein.

Stuur los per e-pos aan zs4bfn@netactive.co.za teen middernag Vrydag 2 Maart 2012. 'n SARL-lidmaatskap is op die spel vir die log met die die meeste QSO’s gemaak.

As jy nie deelneem nie, sal jy moet wag tot 2016, om die datum 29 Februarie in jou logboek te skryf!

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit laag is. Al die sonvlekke wat van die aarde af sigbaar is, is stil en daar is bykans geen kans vir groot sonfakkels nie.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 64.

20 tot 10 m en veral 15 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vanaand 5 Februarie – Eerste INTEGNET van die jaar om 19:30 SAT.
5 Februarie – Antieke Radioassoaiasie se GG-kompetisie van 15:00 tot 19:00.
11 –12 Februarie –SARL velddagkompetisie
20 Februarie – Laaste dag vir indiening van logs vir Antieke Radioassosiasie se Kompetisie.
29 Februarie – Skrikkeljaaruitdaging vanaf 00:01 tot 23:59.
21 Maart – ZS6ERB se konstruksiedag.
20 – 22 April SARL-konvensie in Pinetown.

Onthou, u kan steeds nominasies instuur vir die SARL-toekennings wat gedoen sal word tydens die galadinee wat ook gedurende die naweek met die 2012 SARL-AJV sal plaasvind. Stuur nominasies aan secretary@sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Gustav, ZS6BWN.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003